Home » Uncategorized » … want die kerk mag nooit sê: ‘Ons het nie geweet nie’

… want die kerk mag nooit sê: ‘Ons het nie geweet nie’

MarietjieDr Marietjie van Loggerenberg het onlangs haar doktorsgraad verwerf oor die effek van die NG Kerk se 2007-besluit oor homoseksualiteit op gay predikante. Neels Jackson het met haar gesels.

Dit was ’n pad wat Marietjie van Loggerenberg nie wou loop nie, dié een met die gays.

Sy het nie daarna gesoek nie. In ’n stadium het sy die Here gevra om dit van haar weg te vat, later het sy by Hom gekla dat Hy haar nie mooi gehoor het nie. Maar vandag is sy dankbaar dat Hy haar daarlangs geneem het.

Aanvanklik het sy haar as onderwyser bekwaam. Later opvoedkundige sielkundige geword en sestien jaar lank by die destydse Vista-universiteit klas gegee.

Daarby was sy deurentyd kerklik betrokke: by die jeug, by die vrouediens, by gemeentekoerante, later by EE3.

Die enigste gay mens met wie sy kontak gehad het, was haar haarkapper, op wie sy toe tydens haar EE3-opleiding haar vrae uittoets: “As jy vanaand doodgaan, is jy seker jy gaan hemel toe?”

Hy het vir haar geantwoord dat hy al tien keer tot bekering gekom het, maar dat haar kerk vir hom sê hy gaan hel toe – en toe bars hy in trane uit.

Kyk my in die oë

Sy het nog gesê sy sal gaan uitvind wat haar kerk se stand-punt is, maar toe sê hy vir haar die kerk se standpunt is nie so belangrik nie. “Jy, kyk jy my in die oë en sê ek gaan hel toe.”

Sy kon nie. Daarna het sy al dikwels gewens die kerk kon gay mense in die oë kyk, hulle raaksien vir die men-se wat hulle is, en hulle liefhê soos hulle is.

In 2001 het Marietjie begin met opleiding as narratiewe pastorale terapeut. Die eerste kliënt met wie sy ’n afspraak gehad het, wou weet of daar mikrofone in die vertrek is. Toe sy nee sê, toe fluister hy vir haar: hy dink hy is gay. Sy was die eerste mens vir wie hy dit vertel het.

Marietjie het niks geweet van gays nie, by haar studieleier gaan aanklop om hulp en die boek Aliens in the household of God gekry om te lees. Dit het ’n wêreld vir haar oopgemaak.

Wat sy destyds met daardie eerste kliënt gedoen het, weet sy vandag nie mooi nie, maar hy het geleidelik begin beter word, totdat hy op ’n dag vir haar gesê het hy dink hy is genees. Nie van sy gaywees nie, maar van die depressie, angs en die simptome wat mense laat dink het hy is skisofrenies.

Toe al het sy gewonder in watter soort samelewing ons leef dat iemand, bloot omdat hy nie sy seksuele identiteit kan uitleef nie, in so ’n situasie kan beland dat hy byna in ’n psigiatriese inrigting kan beland.

Om homoseksualiteit beter te verstaan, het sy voe-lers na leiers in die gay gemeenskap uitgesteek. Sy het met God geworstel.

Vrae uit die kerk

Uit die kerk was daar vrae oor waarmee sy besig was. Die kerk se standpunt was duidelik: Haat die sonde, maar wees lief vir die sondaar. Dit was ’n mooi teorie, maar nie een van die dominees wat dit vir haar gesê het, kon vir haar wys wat daardie liefwees vir die sondaar in die praktyk beteken nie.

Geleidelik het haar eie paradigma oor gay mense begin skuif.

Sy het al meer gay kliënte gekry, mense wat veilig by haar gevoel het omdat sy hulle nie probeer verander het nie. Binne drie jaar het sy meer as 500 gay kliënte gesien.

Sy het die tipiese stories leer ken: iemand wat ’n losbandige lewe ly, dan by ’n kerk ’n religieuse ervaring het, tot bekering kom en glo hy is genees van sy gaywees – selfs by die kerk daarvan getuig. Later besef hy is steeds gay, in ’n diep depressie verval, van die kerk en van God af wegvlug, dikwels met selfmoordgedagtes.

Maar dan ook die stories van genesing van mense wat hulle seksuele identiteit aanvaar en dit op verantwoordelike manier uitleef, wat met soveel liefde sorg vir hulle aanneemkinders. Die stories van gay paartjies wat al dekades lank gelukkig en getrou saamleef en nou kan trou.

Nie vir haarself nie

Toe Marietjie drie jaar gelede, op haar sestigste verjaardag, besluit dat sy die doktorale studie gaan doen oor die impak van 2007 se besluit dat gay dominees selibaat moet bly, was dit nie vir haarself nie. Dit was vir die gay mense wat sy die vorige dekade leer ken het en vir wie sy lief is.

Sy het bevind die besluit wek gevoelens op van minderwaardigheid. Dit laat gays voel hulle is nie goed genoeg nie. Nie vir mense nie. Nie vir die kerk nie. Nie vir God nie.

Hulle beleef ’n magteloosheid, ’n stemloosheid – en dit manifesteer as woede, eensaamheid. Dit loop uit op depressie, angs, konstante selfpolisiëring.

Een man het gesê hy beleef God en die kerk as onmenslik, dat dit voel of hy emosioneel en geestelik vermoor word.

Dit is hierdie bevindings uit haar doktorale studie wat sy nou vir die kerk gee.

Want die kerk moenie kan sê: “Ons het nie geweet nie.”

En teen dié agtergrond moet die Algemene Sinode besluit of hy meen die besluit van 2007 is geregverdigde diskriminasie – voor die grondwet, maar veral voor God.